2016 Masadonië

Die betekenis van die lewe…

Daar het alreeds ‘n jaar verbygegaan vandat ons vir die eerste keer daarvan bewus geword het dat daar desperate mense deur Masedonië beweeg wat op soek is na hoop. Ons het bewus geword van God se roeping en ons moes gehoorsaam en probeer om ‘n ligpunt te word op hul moeisame reis.

Natuurlike rampe soos vloede, aardbewings, tornado’s, vuur en wind beïnvloed jaarliks duisende mense wêreldwyd, maar hier het ‘n ongeëwenaarde tsunami oor ons gespoel. Café Mercy (ons projek waar hulp aan vlugtelinge gegee word en waar ons die afgelope maande intens by betrokke was) het geworstel met vlaag op vlaag mense wat by die stasie, Tabanovce, aangekom het en ons kon by tye beswaarlik aan die aanvraag om hulp voldoen. Toe ons begin het om kos, koffie en tee aan die vlugtelinge te verskaf het ons sommer die “amptelike” noodverleningsplan geword, want daar was nie enige infrastruktuur beskikbaar op die stasie nie. Om honderde duisende honger en bang mense te bedien, is net so uitdagend as om vir hulle kos voor te berei.

Die regering en formele noodverleningsorganisasies was werklik onvoorbereid op die stroom van mense wat deur die land beweeg het. Café Mercy, saam met Legis en ‘n paar ander nie-winsgewende Moslemorganisasies (ook NGO’s) was verantwoordelik vir die voedsel- en drankvoorsiening. Die NGO’s het ongeveer 3 000 kospakkies per dag vanaf September 2015 voorsien. Sonder hierdie hulp sou daar sekerlik baie meer mense omgekom het. Ons dank God wat mense gebruik om te voorsien.

Dit is werklik ‘n grootse ervaring om te sien dat daar wêreldwyd mense is wat bereid is om mense in nood, soos die vlugtelinge, te help. Elke mens wil maar net aanvaarding, liefde, sekuriteit, vreugde en hoop vir ‘n beter toekoms hê. Ons moes na maniere soek om met mense te identifiseer en om met hulle te kommunikeer. Almal wat by Café Mercy betrokke was, het vele betekenisvolle gesprekke gevoer — en kosbare oomblikke beleef!

Tydens die mees uitdagende tyd, toe 1 200 mense permanent in en om die stasie gebly het, het spanne van Global Challenge Expeditions vir ons vanaf Maart tot Mei 2016 kom help. Daar is van hulle gevra om ondankbare werk te doen; hulle het gedien, hard gewerk, betekenisvolle gesprekke gevoer en daardeur wonderlike verhoudings gebou. Hulle was soos manna uit die hemel.

Julle bydraes die afgelope maande het onder andere gehelp om 29 000 kinders sonder ouers te begelei. Tot dusvêr is daar 69 000 liter tee en koffie, 4 800 kg suiker en 30 000 kg vrugte by Café Mercy uitgedeel. Hierdie operasie verg ‘n reuse logistieke koördinasie tussen die spanlede en om Café Mercy te laat funksioneer, moes die spanlede al meer as 90 000 km aflê.

Ons het vroeg soggens om 07:00 begin en tot 0:300 die volgende oggend gewerk om tot vyf treine vol vlugtelinge wat daagliks arriveer te bedien. Die rekord aantal vlugtelinge op een dag was 10 000. Dit het broekskeur gegaan by tye met die kwik wat gewissel het van -15˚ tot 39˚C. Gedurende Januarie en Februarie was dit vir weke benede vriespunt. Die byna onmenslike toestande waaronder die vlugtelinge moes oorleef is een oggend om 02:00 beklemtoon toe ‘n trein met 800 mense op die stasie aangekom het en hulle nie ingelig is oor die verhitte UNHCR-fasiliteite wat beskikbaar was nie. Die vlugtelinge — oues, siekes en klein kindertjies moes kilometers na Serbia se grenspos stap in -15˚C.

In Europa kom daar steeds duisende vlugtelinge vanaf Sirië, Afganistan en Noord-Afrika aan wat reeds die stormsee in lendelam en oorlaaide bote aangedurf het. Hulle stroom om en oor mure en bewaakte treinstasies in hul desperate poging om weer ‘n veilige hawe te vind. Dit word ‘n “krisis” genoem, maar hierdie woord impliseer dat daar ‘n probleem is wat ‘n einde het. Dit is egter duidelik dat die vlugtelingkrisis hier is om te bly. Europese politici wil dit nie erken nie, maar daar het ‘n een-en-twintigste eeuse globale politieke krisis ontstaan. Politieke en ekonomiese migrasie is ‘n werklikheid.

Vandag is Tabanovce ‘n vlugtelingskamp met geen werksmoontlikhede nie. Die vlugtelinge ontvang hul daaglikse porsie kos en water en word dan gevra om te wag…hopeloos, passief, met geen moontlikheid van hervestiging nie. Dit is nie hoe ‘n lewe geleef behoort te word nie – dit is net ‘n bestaansmoontlikheid! Niemand kan verbaas wees dat hierdie ontwrigte mense steeds die gevare trotseer om oor geslote grense te probeer kom nie. Die getalle in die kamp het beduidend gedaal. Vlugtelinge maak van verskillende roetes gebruik om na die Wes Europa te te gaan, maar om verskeie redes bly talle ook agter. Hulle het dringend hulp nodig. Aanvanklik het ons nooit gedink dat ons hulle gedurende Ramadan sou bystaan nie; ook nie dat ons opleidingsklasse by Vizbegovo (Skopje toevlugsentrum) sou aanbied nie, maar hulp is nodig en daarom spring ons in.

“We had to do something,” [‘n Switserse dokter] vertel. “We had to do something!”

Ons ervaar die voortdurende wonderwerkinge van God soos toe Jesus die vyf brode en twee vissies vermeerder het en aan die menigte gegee het. Die donasies wat ons ontvang, het dit al moontlik gemaak dat 787 384 mense seën ontvang het! Ons is so dankbaar vir julle goedheid, vrygewigheid en opoffering: Julle bydraes maak dit moontlik dat ons ons behoefte om hulp te verleen kan verwerklik en dit help ons om aan te hou om ‘n verandering in die lewe van ontwrigte families te maak.

Al die ure se harde werk kom egter ook teen ‘n prys: Die persoonlike belewenis en pynlike realiteit van mense se skreiende apatie vir die veiligheid en nood van swak en brose mense is besig om sy tol van elke noodwerker en ons gesinne te eis. Medelydende

moegheid (compassion fatigue) a.g.v. ‘n sterk identifisering met die hulpelose lyding en trauma wat die vlugtelinge ervaar is besig om oor ons toe te sak. Baie van ons as vrywilligers het familietyd, verantwoordelikhede en ander projekte afgeskeep om te help met die dringende nood van hierdie noodlydendes. Ons besef dat ons nie ‘n “How-to-handle-disasters-for-Dummies” –werkboek gehad het nie en ons moes vaardighede aanleer wat ons by geen skool kon leer nie!

Ons moes baie ure na en van ons huise na die treinstasie aflê en dit het tweede natuur en ook ‘n oorlewingsmeganisme geword om die dag se ervaringe in hierdie tyd op pad te oordink. Ons is daagliks blootgestel aan uiters getraumatiseerde mense en het dikwels gevoel dat ons hande afgekap is, omdat ons so min kan doen. Ek dink byvoorbeeld aan ‘n ma wat een dag voor my gestaan het met haar vier kinders onder sewe. Haar man het drie dae voor dit voor hul oë verdrink en die bootjie waarop hul was kon nie stop om hom te red nie. Verder is daar Mehdi en Saeed wat vyf ure moes swem en tergelyketyd twee kinders red… die baie gestremde mense wat vir kilometers in kruiwaens gestoot moes word.

Ervaringe wat my hare laat rys en wat my laat wonder wat die betekenis van die lewe is vir die vele mense. Ons is baie dankbaar dat God ons hier geplaas het om betekenis terug te gee en fonteine te wees waaruit lewende water kan vloei.

Die realiteit is dat ons ondertussen nog steeds hulp benodig om te voorsien aan die mense se behoeftes en om effektief te bedien. Dit is onmoontlik om dit alleen te vermag.

Dit beteken meer as wat jul besef dat julle hierdie boodskap versprei en sodoende ook ander betrokke maak.

Die ondersteuning wat ons ontvang vanuit Singapore, Suid Afrika, Duitsland, Engeland en Amerika ens wys dat mense steeds omgee. Deur hulp te verleen aan ons as hulpverleners, in die verre Masedonië, help julle ook om die Koninkryk uit te brei.

Oorweeg dit asseblief om ons te help!

Danie & Esther van Niekerk

Picture1 Picture2 Picture3 Picture4 Picture5

Kyk ook na