Ons gemeente se storie

NG Kerk Thabazimbi begin

Selfs tot in die 1920’s was ons huidige gemeente niks meer as n wyk nie, waarin ‘n handjievol lidmate van ons kerk ylverspreid gewoon het. Hulle is agtereenvolgens onder Rustenburg, Krokodilrivier en Warmbad ingeskakel en die noordelike gedeelte van ons Gemeente is dikwels deur Waterberg geestelik bearbei.
Tot in 1914 val hierdie wyk onder Rustenburg se gemeente en die ouer lidmate onthou nog die waardige ds. Gerhardus Rudolph wat vanaf 1898 tot 1928 leraar van Rustenburg was. Gedurende die eerste jare van sy bediening was hy verantwoordelik vir die uitgestrekte gemeente, wat onder andere die huidige Brits en Thabazimbi ingesluit het.
Nadat Krokodilrivier (Brits) in 1914 afgestig het, is die Bosvelders by hierdie Gemeente ingeskakel. Uit die dae word die eerbiedwaardige ds. Sybrand van der Spuy nog teer onthou. Een van ons lidmate het hom as ‘n ware sielesoeker beskryf. Wanneer hy met sy perdekar van Brits af gekom het vir huisbesoek, het hy geen mens, ongeag kleur of kerkverband, verbygery nie, maar orals het hy die Goeie Boodskap gebring en waar hy groepies kon byeenbring, het hy dienste gehou en die sakramente bedien. By een geleentheid het hy in die nag gekom om ‘n Du Rand-baba op Kwaggashoek te doop.

In 1922 het Warmbad se gemeente tot stand gekom waarna ons groepie mense by Warmbad ingeskakel is. Ds. Henry Webb word nog goed onthou. Hy kon glo ongenadig perdry en sy kerkraadslede wat saam met hom huisbesoek gedoen het, moes maar gedwee volg oor die ongebaande weë. In hierdie tyd is huisbesoek nog in volle ampsgewaad gedoen en sy manel het gewoonlik met ‘n punt in die lug gestaan wanneer hy ‘n werf binne gekom het.
Ds. Berthold Alheit, wat vanaf 1925 – 1931 leraar van Waterberg (Nylstroom) was, het dikwels die Woord in hierdie omgewing bedien en was veral op Matlabas geen onbekende nie. Hy het ook dikwels op Rooiberg opgetree. Hy word beskryf as ‘n minsame en geliefde dienskneg van die Here.
Ds. W.B. Lategan, wat vir baie jare in Warmbad se gemeente gearbei het, en nog daar was toe ons Gemeente in 1943 afgestig het, het ook diep spore in hierdie wêreld getrap. Hy is uit die aard van die saak beter bekend onder ons ouer lidmate en word nog hoog geag as ‘n geliefde predikant.
Die geskiedenis van die gemeente van Thabazimbi is kort; kort in vergelyking met die geskiedenis van buurgemeentes soos Waterberg, Rustenburg, ens. As ‘n gemeente, nog maar die inleidende hoofstuk in die geskiedenis van hierdie wêrelddeel geskryf, is nog maar ‘n begin gemaak. Met die drakrag van die Bosveld, die daadkrag van sy mense en die rykdom van sy bodem, lê daar vir die NG Gemeente van Thabazimbi ‘n lang pad voor – ‘n gelykpad want die seën van die Here het tot hiertoe wonderbaarlik op hierdie gemeente gerus en sal ons in die toekoms ook nog altyd daarom bid. Die opdraendes wat steil, soms onbegaanbaar steil was, lê agter die rug. Die pad vorentoe sal gelyk wees en die geleentheid bied vir intensiewer bearbeiding, sendingwerk, jeugwerk, alimentasie, ens. Waar ‘n vorige geslag gebou het, kan die teenwoordige en toekomstige geslagte voortbou, uitbrei en bearbei. Mag daar veel seën op die werk vorentoe rus.

Wat van die mense onthou wat by die bou van die kerk betrokke was
"Ons kon vandag met ‘n groep van die bouers van ons gemeente kuier. Soos oom Hans Human wat verantwoordelik was vir die maak van die Visse – Gaan maak vissers van mense, Jesus se opdrag – op die kerktoring.
Ons eerste samesprekings was met die bouer, hy besluit toe om ‘n meer bekwame ambagsman in te roep om ons te help met die bou van die staalwerk en sterkte van die materiaal, die vis het nie baie geweeg nie, maar die kerkklok het omtrent 250 pond geweeg.
Toe die bouer by die kerkklok kom, was alles klaar gemaak uit staal, wat Yskor gegee het en die bekwame beplanning van ambagsman Alwyn Hefer, “Dankie Ou maat,” het ek en Kas gesê
Daar is dit nog vandag, sonder enige probleme. Dankie oom Jan, Alwyn en my goeie vriend Kas Wessels."
~ Hans Human

Interessante brokkies herinnering...
Die werkende jongmense het die kerkklok aangekoop. Gys Pitzer, oud Springbok het die klok die eerste maal gelui,so vertel oom Pietie Terblanché.
Die Kanselbybel wat tans in gebruik is, is deur oom Frikkie Erasmus aan die gemeente geskenk. Hy het op Kersoggend, 25 Desember 1986, voor die diens, die Bybel aan ds Johnnie de Clerk oorhandig.
Tot in Mei 1985 is gemeente etes gehou om die skuld van die kerksentrum af te betaal. Hierdie etes is Bou-Kou genoem en die prys was slegs R3:00 per bord kos.
Hierdie gemeente het ook al mooi tradisies gebou. Van die mooiste instellings is sekerlik die gebruik om op Oujaarsaand saam te kom en vleis te braai en dan ‘n middernagdiens te hou. Die koms van die Nuwejaar word dan gewoonlik met ‘n paar dinamietontploffings aangekondig, wat so tipies van Thabazimbi is.
Dit laat ons dink aan die geleentheid toe hier ’n huwelik bevestig is. Die bruid se familie was hoofsaaklik uit die Vrystaat afkomstig en het natuurlik nie geweet van die ontploffings wat elke middag gehoor word nie – trouens, vir baie Vrystaters is ‘n berg al ‘n aardigheid. Toevallig het die leraar oor die teks: ,,As die Here die huis nie bou nie,” gepraat. Toe die eerste skote afgaan, het die Vrystaters regop geruk maar die leraar het die saak beredder, en die gemoedere gekalmeer deur te sê dat ‘n mens behoorlik beplan deur ‘n argitek en stewig bou om selfs sulke skote te weerstaan. Almal was weer gerus, die leraar het aangegaan, baie het weer heerlik begin wegdommel en toe – knal daar ‘n besonder harde skoot. Hierop was die Vrystaters nie ingestel nie en verskeie het regop gespring van die skrik. Die leraar kon nie weer die saak beredder nie en het hardop gelag. Ons is seker daar is een huwelikspaartjie wat nooit die teks by geleentheid van hul huweliksbevestiging sal vergeet nie.