2017 Sending voorbidding – Japan
2017 – Aliza-Aviela Bediening Sop en Broodjie ete
Aliza-Aviela Bediening het sop en broodjie ete aan die seniorlidmate van ons gemeente gegee. Dit was ‘n baie geslaagde en heerlike oggend vir almal teenwoordig.
Die vrugte is geskenk deur Wessel en Hilda de Clerqc en Louw en Petro Botha. Dit was ‘n bonus geskenk aan al die seniors.
Dr Tinus het die verwelkoming en tafelgebed gedoen.
Die dames is bedank deur Robert McAlpine vir alles wat gedoen word vir die seniors.
Baie dankie, Antionette Brits, Annelise Kotze, Ronel Joubert, Linda van Wyngaard, Ronel Greeff en Theresa Pretorius.
Dankie julle.
Die uitreike aan ons seniors, is vir ons ook die betekenis van Aliza-Aviela, Vreugdevol, want God is my Vader.
2017 Getuienisaksie 12 – 14 Mei
Die naweek van 12-14 Mei het van die sendelinge wat deur ons Gemeente onsersteun word ons besoek en van hulle uitreike in die verskillende dele kom vertel.
HJ en Dalene Cronje van Noeniesput diep in die Kalahari en Drienie Lombard van Borgenhout in België was die besoekers.
2016 Sendingnuus
Kersfees groete Elke jaar met Kersfees dink ons aan die groot geskenk wat God gegee het in sy seun Jesus. Ons familie het laasweek ons nuwe dogtertjie Čereni gaan haal het en die amper 6 jaar se wag het finaal geeindig. Ons prys die Here vir ons klein wonderwerkie! Ons wil vir elkeen ‘n wonderlike Kersfees toewens en opreg dankbaar uitspreek vir almal wat saam met ons die jaar die pad gestap het. Elkeen se emails, facebook boodskappe van ondersteuning deur die jaar, elke boodskap, elke verjaarsdag gelukwense, elke finansiële bydrae en opoffering, elke gebed wat opgedra is, beteken vir ons as gesin ongelooflik baie. Die opgewondendheid oor die nuwe hoofstuk van ons lewe in Masedonië noop ons daartoe dat ons met dankbaarheid terugkyk na ‘n jaar vol seën en beloftes wat die Here lank terug vir ons gegee het en wat Hy getrou bewaarheid het. Mag julle Sy liefde, vrede, hoop en geluk ervaar die Kersfees en ons wil graag saam met julle die pad wat voorlê aanpak. As julle meer wil uitvind oor Čereni, kontak ons gerus of loer in op die blog.
Danie en Ester van Niekerk
http://adoptingladybug.blogspot.mk/2016/12/ladybug-has-arrived.html

2016 Sending dank-aan-ng-thaba
Getuienisaksie: Kerkbode toe tref …
Danie en Esther van Niekerk was lidmate van die NG gemeentes Sesmylspruit, Witrivier en Thabazimbi voordat hulle met die steun van hierdie en ander gemeentes Masedonië toe is as sendelinge. Daar is hulle werk onverwags in ’n totaal ander koers gestuur as wat hulle beplan het. Ernst Muller vertel. Toe Danie en Esther van Niekerk ▸▸▸ http://kerkbode.christians.co.za/2016/09/15/toe-tref-n-vloedgolf-hulle/
2016 Macedonië – Kerkbode artikel
Die aangehegde artikel word in die volgende Kerkbode geplaas – met seker nog ‘n verandering of twee wat aangebring moet word.
Thabazimbi se naam word bo-aan genoem
Ek tans besig om te help met ‘n vloed wat Skopje twee weke gelede getref het, 20 mense verdrink en baie skade.
Ons spandeer baie tyd met die Albanese bevolking wat net Muslims is
Groete
Danie en Esther
16 Sendelinge
Toe tref ’n vloedgolf hulle
Danie en Esther van Niekerk was lidmate van die NG gemeentes Sesmylspruit, Witrivier en Thabazimbi voordat hulle met die steun van hierdie en ander gemeentes Masedonië toe is as sendelinge. Daar is hulle werk onverwags in ’n totaal ander koers gestuur as wat hulle beplan het. ERNST MULLER vertel.
Toe Danie en Esther van Niekerk met hulle kroos na Skopje, hoofstad van Masedonië, verhuis het, was dit met ’n doelgerigte fokus op die Roma-volksgroep (ook bekend as gypsies). Min het hulle besef dat hulle hulself spoedig in die middel van ’n vasteland-wye menslike tsunami sou bevind.
Oor die afgelope jaar het die nood van honderdduisende Siriese vlugtelinge vir hulle ’n daaglikse realiteit geword – hulle roeping kon hulle nie toelaat om blote waarnemers te bly nie. Hulle bedieningspunt, Café Mercy (53 km van hulle huis af), het ’n ligpunt geword vir meer as 787 000 bang en honger reisigers wat deur Tabanovce-stasie beweeg het. Soos ook vir dié wat daar in ’n vlugtelingkamp vasgehaak het.
Die Masedoniese regering en formele noodleningsorganisasies was onvoorbereid op dié tragiese vloedgolf wat deur die land beweeg het. Skaars het Café Mercy begin om koffie, tee en kos aan vlugtelinge te verskaf, en dit word as die “amptelike” noodleningsplan beskou. By tye in vennootskap met nie-regerings-en moslem-organisasies, ander tye alleen, is tot op datum 71 000 liter tee en koffie, 4 800 kg suiker en 30 000 kg vrugte verskaf. 29 000 kinders, wat sonder ouerlike toesig daar beland het, is begelei.
Treine vol mense
By tye het tot vyf treine vol vlugtelinge per dag deur Tabanovce beweeg (die rekord was 10 000 mense op een dag). Dit was nie vreemd nie, skryf Danie, om 07:00 in die oggend te begin en tot 03:00 die volgende dag te werk. Voeg daarby dat klimaatstoestande wissel van 39˚C tot sneeustorms en temperature so laag as -15˚. “Gedurende Januarie en Februarie was dit vir weke benede vriespunt,” skryf Danie. “Groepe met oues, siekes en klein kindertjies moes soms kilometers na Serwië se grenspos in -15˚C-toestande stap”.
Die lang afstande (oor die 101 000 km) wat spanlede moes aflê om die reuse logistieke koördinasie aan die gang te hou, die ure se fisiese inspanning, maar veral die daaglikse konfrontasie en vereenselwiging met die rou nood, vrees en wanhoop van soveel “gewone mense soos ek en jy” eis sy tol onder die werkers en hulle gesinne. Hulle moes vaardighede aanleer wat by geen skool aangebied word nie. Medelyemoegheid (compassion fatigue) is ‹n byna noodwendige gevolg van sulke soort blootstelling.
Daarom is die Van Niekerks en hulle medewerkers so dankbaar vir alle vorme van hulp. Die spanne van Global Challenge Expeditions op die mees uitdagende tyd, toe daar 1200 mense voltyds in en om die stasie gewoon het, was soos manna uit die hemel. So-ook die talle donasies en blyke van ondersteuning uit Suid- Afrika, Singapoer, Duitsland, Engeland en Amerika.
Meer as kospakkies
Uiteraard gaan dit oor meer as kospakkies. Ten spyte van die geweldige druk, kon die werkers ook duisende sinvolle en bemoedigende gesprekke voer, vriende maak met dié in die kamp, en ’n gesig gee aan die liefdesdiens te midde van ’n oormag van verwerping, ontnugtering en tragedie, wat die swerwers oral beleef.
En dan kom daar later ʼn brokkie nuus uit Duitsland van een van die vlugtelinge wat hier gehelp is en daar besluit het om kerk toe te gaan. Hoeveel ander stories van vrug op hulle werk is daar wat die Van Niekerks nooit hoor nie? Maar dit is hoe dit gaan. Hulle saai die liefde. Dit is hulle taak.
Staan ’n mens vir ’n oomblik terug van die hartverskeurende persoonlike nood en hartseer, dan herken ’n mens dit as legkaartstukkies van een van die groot verskynsels van ons tyd. Die geo-politieke verskuiwing van miljoene mense as gevolg van oorlog, volkuitwissings, vervolging (dikwels deur hulle eie regerings), hongersnood en uiterste armoede.
“Duisende vlugtelinge vanaf Sirië, Afganistan en Noord-Afrika kom steeds in Europa aan wat reeds die stormsee in lendelam en oorlaaide bote aangedurf het. Hulle stroom om en oor mure en bewaakte treinstasies in hul desperate poging om weer ’n veilige hawe te vind,” sê Danie.
En selfs gesofistikeerde en ekonomies spierkragtige Europa staan tot ’n groot mate impotent voor die realiteit van dié massiewe uitdagings.
Die Christelike gemeenskap het ’n millenia-oue reputasie van toetrede in die nood van ander (“soms, tragies, ook van ’n gebrek aan daadkrag in die aangesig van sulke wekroepe”). Vir elke mens in nood wat iewers in hierdie stukkend wêreld opkyk na ’n sagte glimlag en die spreekwoordelike beker koue water ontvang, word iets van Jesus se hart weerkaats.
Hoewel die getalle in die kamp afgeneem het, soos wat mense na Wes-Europa aanbeweeg het, is hulle diep besorgd oor dié wat steeds daar bly. Daar is geen werksgeleenthede nie, geen teken van geleenthede vir hervestiging nie. Dus gaan dié werk voort. Kospakkies word steeds verskaf en klasse word aangebied in Vizbegovo, Skopje se toevlugsentrum.
Kontak gerus vir Danie en Esther by danie@ourcalling.co.za vir meer inligting of om ’n boodskap van bemoediging te stuur.
Kwena tent
Luk 10:2
“Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan tot die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes”.
Liewe KWENA Ondersteuner
Dit is met groot waardering dat ons u bedank vir u gebede en maandelikse bydraes. Ons arbeiders is voorwaar min, maar deur u ondersteuning, is die KWENA span hard aan die werk om die mense na ons Hemelse Vader te lei.
Thembi, Samuel en Puso, ons drie evangeliste, was reeds in die tweede week van Januarie op hulle pos en die werk van die Here het, met KWENA ywer en toegewydheid, voort gegaan.
KWENA het sedert die begin van die jaar, die volgende plekke besoek:
Januarie: Thabazimbi: Regorogile en Ipeleng
Februarie: Koedoeskop
Maart: Thabazimbi
April: Mmantserre en Pylkop
Mei: Mmorogong
Junie: Ramokokastad
Julie: Sandfontein
Bid asb
• dat die Jesus films wat versprei word, verandering bring in die harte van
mense en gemeenskappe wat dit ontvang;
• vir ons evangeliste gedurende die wintermaande, omdat die omstandighede nie
maklik is nie en die tent maar koud raak in hierdie tyd;
• vir die voortbestaan van die KWENA evangelisasie aksie;
• vir die familie van die evangeliste wat alleen tuis agtegelaat word;
• vir die mense wat vir die eerste keer of opnuut, hulle harte vir die Here gee.
Joh 17:20 Ek bid nie net vir hierdie mense nie. Ek bid ook vir die ander mense wat in My sal glo omdat hierdie mense vir hulle sal vertel van My.
KWENA Seën u met hierdie bede:
Die Here is VOOR u om die weg gelyk te maak,
Die Here is LANGS u om u in sy arms toe te vou,
Die Here is AGTER u om die aanvalle van die Bose af te slaan,
Die Here is ONDER u om u te dra as jy mag val,
Die Here is RONDOM u om u te beskerm,
Die Here is BOKANT u om u te seën,
Die Here is BINNE u om u te lei met sy Heilige Gees,
So seën die Drie-enige God u van nou af tot in ewigheid.
Indien u by enige uitreik aksie betrokke wil raak of `n besoek wil aflê aan die KWENA tent, stuur gerus `n epos na kwena@n-t.co.za en ons skakel u dadelik terug.
Groete in Jesus
KWENA Forum
Webtuiste: www.kwena.org
Facebook: Kwena witnessing forum
E-pos: kwena@n-t.co.za 2
Helplift
Sameroeper Carel Olivier 082 553 6574











































