Stories vir Lewe Tema 4

Prediker: ds JZ de Jager

21 Augustus 2016

Mat. 18:21-35             Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie

Ons is besig met die reeks Stories vir die Lewe. En iets wat my opval van hierdie reeks is hoe meer ek met die verhale wat Jesus vertel het besig is, hoe meer besef ek dat al hierdie verhale hulleself elke dag afspeel in ons eie lewens, vandag, hier waar ons bymekaar is.

Die gelykenis wat ons vandag behandel gaan oor vergifnis en die tema waarna ons kyk is – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie. Dit is harde woorde wat mens baie vinnig laat dink aan jou eie lewe en die manier wat jy vergewe, of nie vergewe nie. En as mens dink aan die manier hoe jy vergewe, of nie vergewe nie dan regverdig jy ook sommer baie vinnig hoekom jy so oor die saak voel.

As ek jou vandag sou vra wat is jou definisie van vergifnis, wat sou jy sê… Of hoe sou jy vergifnis verduidelik aan ‘n 5 jarige kind sodat hulle dit verstaan, hoe sou jy dit doen?

    • “Forgiveness is not an occasional act, it is a constant attitude.” -Martin Luther King, Jr.
  • “Forgiveness is letting go of the hope that the past can be changed.” Anoniem

 

Ek lees van ‘n artikel wat in die Cape Argus verskyn het in Februarie 1990:

In die artikel vertel ‘n joernalis van ‘n meneer Nelson Mandela se vrylating uit die Pollsmoor gevangenis na 27 jaar in die tronk. Die joernalis vertel dat hy baie naby aan die paadjie gestaan het, en kon dus al die verrigtinge baie mooi dophou.  Toe die deure oopgaan, het hy vir ‘n baie vinnige oomblik ‘n bitter, harde trek om die mond van die wêreld beroemde, 72 jarige gevangene opgemerk.  Maar dit was asof daar ‘n vasberade trek in Nelson Mandela se oë verskyn het, wat veroorsaak het dat sy gesig versag het.  Met ‘n rustige uitdrukking op sy gesig het Nelson Mandela die duisende mense voor die tronk gebou tegemoet geloop.  Dieselfde joernalis sou mnr Mandela op ‘n later stadium ontmoet en op daardie geleentheid het hy hom gevra of sy waarneming daardie dag reg was.  Mandela het vir ‘n oomblik voor hom uitgestaar, en sy kop geknik en erken dat hy op daardie stadium nog nie losgekom het van die gevoel van verontregting nie.  Toe hy uitstap en al die mense sien, waaronder selfs gevangenis beamptes was, was dit asof daar ‘n stem vir homself gesê het: Nelson, die afgelope 27 jaar was jy ‘n vry man, al is jy in tronkselle aangehou.  Moenie toelaat dat jou gevangenemers nou amptelik van jou ‘n vry man maak, terwyl jy van jouself weer hulle gevangene maak deur jou onvergewensgesindheid nie.  Nelson Mandela het die wysheid gehad om te besef dat daar geen groter gevangenis is nie as die waarin jy jouself toesluit as jy weier om jou vyand te vergewe, en vasgeketting bly deur boeie van haat.

In gesprekke waarby ek die week betrokke wat waar ons bietjie saam gedink het oor hierdie teks het frases soos “Elke hond kry sy dag…” en “Die wiel draai…” opgekom. Want dit is die wêreld waarbinne ons leef se houding. Ons weet wat is die regte ding om te doen en ons ken al die regte antwoorde, maar om te vergewe ko nie altyd so maklik nie…

Die wêreld wil ons leer dat as ons vergewe dan is ons swak MAAR Jesus wil ons vandag net weer kom leer dat dit net skurke is wat nie vergewe nie.

Kom ons lees saam uit Mat 18:21-35

Die eerste deel van hierdie gedeelte gaan oor Petrus wat vir Jesus kom vra oor vergifnis. Dit wil lyk of Petrus met ‘n bietjie hoogmoed hierdie vraag vir Jesus kom vra het.  Die Rabbynse voorskrifte oor vergifnis was drie-maal.  Jy moet iemand drie-maal vergewe.  Petrus kom dan, en wys eintlik dat hy iets van die Rabbynse voorskrif verstaan, maar dat hy ook bereid is om meer te vergewe, nl sewe maal.  Petrus kon sekerlik een van twee gedagtes gehad het…

  1. As ek sewe keer vergewe dan gee dit my darem ‘n tyd om vriendelik en mooi te wees en alles te doen wat van my verwag word… Dan doen ek my Christelike plig… Maar dit moet mos êrens stop dat ek hom iets kan gaan aan doen…
  2. Of sy gedagte kon iets wees soos ‘n stewige kwota goedhartigheid… Hy wil vir Jesus uitstaan as iemand besonders…

Ons weet nie wat sy bedoeling was nie, of dit positief of negatief was weet ons nie, maar een ding weet ons: Hy wil hê dat Jesus ‘n perk moet stel aan die Christelike naasteliefde.

Sommer so terloops, ek weet nie van julle nie, maar ek het ook al dieselfde tipe wens gehad… Dat daar net bietjie perke is aan goed wees, en reg optree, en vriendelik wees, en nie liggeraak wees nie, en om nie te hoef te vergewe nie…  Partykeer wil mens mos met hierdie gevoel sit hier binne-in ‘n mens??

Petrus wou ‘n merker kry wat sê: tot hier toe moet jy dit doen en dan nie verder nie… Ons sê dit mos ook… Ek is maar net ‘n mens… Ek raak partykeer vinnig kwaad… Ek sê partykeer goed sonder om te dink… Wat ons eintlik sê is ek wil maar net met dieselfde mate die ou/meisie terugkry as waarmee hulle my gekry het.  Maar dan kom Jesus uit ‘n ander hoek uit en kom vertel vir ons ‘n gelykenis wat ons eintlik nie wou gehoor het nie…

Vertel weer die gelykenis…

As mens die gesprek tussen Jesus en Petrus in ag neem terwyl mens die gelykenis lees, dan kom mens agter dat Jesus vir Petrus probeer verduidelik wat die aard en doel van vergifnis is, naamlik:

  1. Vir mense om mekaar te kan vergewe, kan net verstaan word in die konteks van God se vergifnis van mense. Daarom vergewe die koning in hierdie gelykenis die persoon se onvergeeflike skuld. (Die bedrag wat die man aan die koning skuld is moeilik om te verduidelik. ‘n Dagarbeider het ‘n sekere bedrag geld gekry, dit was ‘n Romeinse muntstuk, ‘n Denarius, of denarii. So na ‘n dag het ‘n werker hierdie muntstuk gekry. Hierdie ou het die koning ‘n bedrag geskuld wat ‘n dagarbeider in 150000 jaar sou verdien. Dit is ontsettend baie geld, amper onmoontlik om te bereken, Amper so moeilik soos om te probeer bereken met watter genade God ons vergewe het.
  2. Om die storie net nog meer boeiend te maak kom mens agter dat hierdie persoon wie se skuld vergewe is nie regtig besef wat gebeur het nie. Nêrens kom mens agter dat hy sy vryheid wil vier, of dat hy bly is dat hy vergewe is nie. Vir hom gaan vergifnis oor somme. Daarom maak hy die absurde belofte dat hy alles sal terug betaal. Hy verstaan nie dat vergifnis niks te make het met wat jy kan terugbetaal nie, maar met die genade dat jy vergewe is.
  3. Omdat hy nie vergifnis ervaar nie, kan hy dit ook nie deel met die mense om hom nie. Dis waarom hy ook nie die genade van vergifnis kon deel met iemand wat hom iets skuld nie. Dis juis die bedoeling van vers 35 om te sê dat vergifnis met ’n hartsverandering te make het…
  4. Met hierdie gelykenis wou Jesus juis vir die beterweter en skandemaker Petrus sê: “Ek vergewe jou nie omdat jy dit verdien nie, of omdat jy dink jy kan terugbetaal wat jy skuld nie, maar omdat ek jou liefhet Petrus.” Vergifnis is nie wat jy alles moet doen om jou skuld betaal te kry nie, maar om die genade van my liefde vir jou te kan ervaar en te aanvaar.”
  • En as jy dan hierdie vergifnis ervaar het, gaan deel dit dan met die mense om jou, elke dag. Die Duitse teoloog Helmut Thielicke het op ‘n keer gesê: …”God se genade (vergifnis) is soos ʼn aflosstokkie waarmee ek in die aflosspan hardloop, ek kan net in die aflosoorwinning deel as ek die stokkie aangee wanneer ek moet. As ek die stokkie vir myself hou… self alleen daarmee verder hardloop… ja, selfs al kom ek daarmee eerste by die wenpaal aan… sal ek gediskwalifiseer word… want die aflosreël sê jy moet die aflosstokkie aangee na die volgende atleet in jou span.”

Ek wil afsluit met ‘n gebeurtenis wat in SA afgespeel het so ruk terug:

Dis ‘n voorbeeld van versoening wat werk

Dit kom uit ‘n boek van Andrew Harvey “The hope, a guide to sacred activism.”

Hy vertel hierin van hierdie ou swart vrou, toe al byna blind, wat voor die Waarheid-en-versoeningskommissie verskyn het saam met die witman ene mnr. van de Broek, wat daar bely het hoe hy haar man en seun voor haar gemartel en vermoor het. Een van die kommissielede vra toe vir haar: “Hoe dink jy sal ons reg kan laat geskied aan jou wat jou familie op hierdie aaklige manier moes verloor het.” Die ou vrou antwoord toe: “Ek wil drie dinge laat sien gebeur:

  1. Die eerste is iemand moet my vat na daar waar hulle my man aan die brand gesteek het. Ek wil sy as loop bymekaarmaak en hom ordentlik begrawe.
  2. Die tweede ding wat ek vra… my man en seun was die enigste familie wat ek gehad het, daarom wil ek mnr. van de Broek as my seun aanneem. Hy moet twee maal ʼn maand vir my by my huis kom kuier sodat ek met hom die liefde kan deel wat daar nog in my oorgebly het.
  3. Die derde ding wat ek wil vra, is dat iemand my nou moet kom help om na mnr. van de Broek toe te kan loop sodat ek my arms om hom kan sit en hom vashou sodat hy kan weet dat ek hom vergewe het.”

Hulle kom help haar toe na mnr. van de Broek toe. Hy, oorweldig oor wat hy gehoor het, val toe net daar flou neer en almal in daai hofsaal staan toe op en begin sing “Amazing Grace.”

Harvey sê toe ek hierdie storie lees, toe besef ek dat in daai hofsaal iets gebeur het wat mnr. van de Broek nie gedink het ooit met hom sou kon gebeur het nie, oor die “stupidste” fout wat hy in sy lewe kon gemaak het nie. ‘n Ou swart vrou gee hom ‘n stuk onvoorwaardelik liefde wat hy nie kon verdien nie en neem hom as haar eie familie aan.

Vergifnis is nie lekker of maklik nie. Dit kom nie vir ons natuurlik om iemand met genade te hanteer nie. Maar vir ons om waarlik die lewe te leef wat God vir ons beplan het, moet ons besef dat dit net ‘n skurk is wat nie kan vergewe nie.

Ek gaan geleentheid gee vir stilgebed…

Dink bietjie na oor jou eie lewe:

  1. Het jy al hierdie vergifnis wat God vir jou gegee het aanvaar?
  2. Is daar nog iemand in jou lewe wat jy nog nie vergewe het vir die onreg wat hulle jou aangedoen het nie?
  3. Is daar miskien iemand wat jou nog nie vergewe het nie, vir die onreg wat jy aan daardie persoon gedoen het?

Kyk ook na