2018 Seronga, Botswana uitreik

Julie 2018

Vroeg die oggend van 7 Julie 2018 staan 3 voertuie van ons gemeentelede volgepak langs die pad na Lephalale en ons bid in die koue oggendure saam dat God ons sal beskerm op die pad, waar ons oppad is na Ds. Freddie en sy vrou Lesley in Seronga. Die grenspos by Martin’s Drift is nie te besig nie en ons is spoedig oppad na Palapye waar ons by Oom Gawie en Tannie Magda aansluit vir regte padkos-ontbyt, een van vele langs-die-pad-etes. Ons bestemming vir dag 1 is Maun waar ons by Delon en Lizette van Zyl oornag en soos konings ontvang word.

Dag 2 ry ons van Maun na Shakawe op ‘n onmoontlike teerpad, slaggat op slaggat vir 300km. Die pont by Shakawe help ons vining oor die Okavango rivier en dan die laaste 80km op ‘n ongemaklike grondpad tot by Seronga.

Dit is altyd lekker om by Ds. Freddie en Lesley aan te kom omdat dit voel soos familie. Afpak en uitpak aan sakke en sakke komberse en klere wat ons saamneem vir die behoeftiges in Seronga gebeur so saam met kamp opslaan en nesskrop voordat almal vroegerig inkruip na die lang dag.

Ons is in Seronga om te help met instandhouding van die sendingstasie en ook om vir Ds. Freddie, Lesley, Gomolemo en die res van die span te bemoedig waar hulle hard werk ver van hulle mense en met erge aanslae teen hulle. Ons boodskap aan hulle is dat indien hulle in God geanker bly, soos ‘n boom se wortels hom anker, sal hulle goeie vrugte dra vir die mense van Seronga, Botswana en Angola, waar hulle werk.

Elke dag na oggendgodsdiens spring ons aan die werk en installeer 3 nuwe deure, hekke, diefwerings, ‘n groot plafon en ‘n waterpomp om water uit die delta na die tenks te pomp. Ons help om die elektriese heining te herstel terwyl die dames die komberse en klere reg toor met naald en garing en sorg om die honger te stil. Laatmiddag het ons die voorreg om ons Here se Skepping op die water te beleef wanneer die Afrika-son in al sy glorie oor die delta sak en die Bontvisvanger tussen seekoeie en krokodille induik om ‘n vissie te vang…en ons besef die Here is hier teenwoordig…en ons bid dat die mense van Botswana sal besef wie Hy werklik is.

Vyf werksdae later begin ons terugtog huistoe, om en deur 1000de slaggate tot op Maun, sonder moeilikheid of teëspoed deur die grens, veilig tot in Thabazimbi.

Dankie vir elkeen wat bygedra het tot die sukses van hierdie uitreik: Tom en Rachel Miller, Pieter en Lesley Keay, Gawie en Magda Jordaan, Henk, Megan, Francois en (die regte) Marco Brits, Dr. Tinus en (die ander) Marco Benade en aan elkeen wat ons in hulle gebede gedra het.

Alle eer aan ons Here dat Hy ons gelei het, dat Hy ons beskerm het, dat Hy ons in siekte bygestaan het, dat Hy ons die geleentheid gegee het om uit te reik na ander en dat ons Hom mag ken.

 

NG Gemeente Thabazimbi Getuienisaksie

Kyk ook na